NG Kerk Philadelphia

KERK GESKIEDENIS - NGK PHILADELPHIA 1963 - 2013

Die NG gemeente te Philadelphia is op 16 Desember 1863 gestig as die 68ste gemeente van die NG Kerk in Suid- Afrika. Daar is reeds in 1858 begin met die bou van ‘n kerkgebou nadat ene Jan van Schoor 20 morge grond vir hierdie doel geskenk het, asook vir die aanlê van ‘n dorp. Die eerste kerkgebou is op Saterdag 9 Januarie 1864 ingewy met die voorstelling van die eerste kerkraadslede. Die eerste Nagmaal was die volgende dag waartydens daar ook 2 kinders gedoop is.

Dit is verstommend wat hierdie klein gemeentetjie wat met 150 lidmate gestig is (48 uit Durbanville, 57 uit Swartland, 23 uit Kaapstad, 14 uit Wynberg) in sy eerste eeu vermag het, veral ook as in gedagte gehou word dat dit ‘n tydperk van oorloë (grensoorloë, die Anglo-Boere oorlog, twee wêreld-oorloë) asook ‘n groot depressie ingesluit het. Die gemeente het in hierdie tydperk baie eiendomme bekom en ook opgerig met die uitsluitlike doel om ‘n Christelike gemeente en gemeenskap hier te vestig. Met die gemeente-stigting in 1863 was die plaaslike skool reeds funksioneel en daar was reeds ‘n woning vir die skoolhoof.

Die bou van ‘n kerkgebou, kerksaal, die polisie-stasie, poskantoor en selfs ‘n dokterswoning en ‘n tennisbaan het gevolg asook die uitbreiding van die oorspronklike kerkgrond met die aankoop van ongeveer 200 hektaar aangrensend (1868) – die doel om finansiële stabiliteit vir die jong gemeente te gee, maar ook vir toekomstige dorpsuitbreiding. Hierdie was wyse besluite van die voorvaders wat vandag steeds tot groot voordeel van die gemeente is. Die kerk het vir baie jare die rol van ‘n munisipaliteit vervul en het dienste soos water en selfs straatbeligting aan die dorp voorsien!

Die snelle groei en ontwikkeling van Melkbosstrand en die nimmereindigende pogings van die Kerkraad om dorpsuitbreiding op Philadelphia te bewerkstellig was seker die mees prominente aangeleenthede die afgelope 50 jaar. Die NG gemeente Melkbosstrand is in 1983 van Philadelphia afgestig en tans bestaan die gemeente (Philadelphia) uit ongeveer 300 lidmate. Die instandhouding van die gemeente se talle eiendomme verg baie en eietydse gebeure soos bv. die ontvolking van die platteland en die groei van onafhanklike kerkgenootskappe is ook hier van toepassing. Ons dank aan ons Hemelse Vader vir voorvaders en -moeders wat die regte fondamente gelê het, vir 150 geseënde jare en vir ‘n gemeente wat steeds bestaan en groei.